Wie is ons?
Gereformeerde Kerk Wesbank is ‘n gemeente geplant in die hart van die Kaapse Vlakte — ’n plek waar die nood groot is, maar waar God se genade nog groter is. Ons is ‘n Gereformeerde kerk wat gebou is op die fondament van die Woord van God en die Evangelie van Jesus Christus. As gemeente van die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika bely ons die drie ekumeniese belydenisse: die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea, en die Geloofsbelydenis van Athanasius. Ons verbind ons ook aan die drie Formuliere van Eenheid: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, en die Dordtse Leerreëls.
Hoewel Gereformeerde Kerk Wesbank amptelik op 13 Oktober 2019 geïnstitueer is, het die werk reeds in 2001 begin met die bediening van ds. Charles Nicholson en sy vrou, Delia. Oor die jare was daar baie mense betrokke met die Woordbediening, evangelisasie, die vroue-Bybelstudie, huisbesoeke, en hulp op een of ander manier. Onder die predikante wat die gemeente in verskillende stadiums bedien het, tel ds. Hannes Bruytenbach, ds. Linus van’t Foort, ds. Carl van Wyk, en ds. Peter Abrahams. Deur die jare heen getuig elke diens, Bybelstudie en huisbesoek van die Here se genadige hand wat ons as gemeente deur storms en seëninge gelei het. ’n Merkwaardige teken van die Here se voorsiening is dat Wesbank 9 Junie 2024 sy eie predikant kon bevestig — ds. Jaco de Beer — wat nou as tentmaker in die gemeente dien.
Jaco en sy vrou Benita is sedert 2023 betrokke by die bediening in Wesbank. Die Here het hulle voorberei deur jare se diens in plekke soos Khayelitsha, Bellville-Suid en Brackenfell, met ‘n roeping om as tentmakerpaar in gemeenskappe te dien waar fondse beperk is. In Wesbank het hulle ‘n geestelike tuiste gevind — ‘n plek waar die Here hulle geplant het om Sy kerk op te bou en Sy liefde tasbaar te leef. Ons roeping is helder: om die lig van Christus te bring in ’n gemeenskap wat dikwels oor die hoof gesien word. Wesbank is ‘n gebied getref deur werkloosheid, armoede, bendegeweld, dwelmmisbruik, gebroke gesinne, en hopeloosheid — maar dit is presies waar ons glo die kerk van Christus moet wees. Die gemeenskap is vasgevang in ’n bose kringloop wat net deur die evangelie van Jesus Christus gebreek kan word. Ons sien elke dag hoe die lewende water van Christus nuwe lewe bring — mense wat hul verhoudings met God herstel, gesinne wat begin genees, en jongmense wat roeping ontdek.
Daarom bedien ons met oorgawe en liefde: deur gereelde prediking van die Woord, straatevangelisasie, opelugdienste, huisbesoeke, Bybelstudies, berading vir huwelike en gesinne, pastorale versorging, en sosiale opheffing soos sopkombuise en barmhartigheidswerk. Een van die hoogtepunte op ons kerkkalendar elke jaar is ons Kerssangdiens. ‘n Program met Skrif en sang wat die pad van Christus se geboorte deur die Bybel volg lok ‘n groot getal besoekers. Ons het in 2024 ’n groot sprong gesien met die begin van Sondagskool en nuwe lidmaatskapklasse. Daaruit het nie net nuwe belydenisse van geloof voortgespruit nie, maar ook huwelike wat in Christus herstel is — mense wat in sonde geleef het, maar deur die evangelie oortuig is om met die Here reg te maak. Een egpaar het ná drie maande se huwelikskategese getrou — ’n helder getuienis in ’n gemeenskap waar buite-egtelike verhoudings algemeen is.
Ons evangelisasiebediening bring ook dissipelskap: ouderlinge stap saam deur die strate tydens opelugprediking, deel Johannesevangelies uit, en nooi mense na die kerk. Die sopkombuis bedien mense se liggame én siele. ’n Evangelisasievriend wat tydens ’n uitreik geraak is, help nou self elke Saterdag met uitreike. Evangelisasie is vir ons nie ’n opsionele projek nie — dit is die hartklop van ‘n gemeente wat roepingsgetrou wil wees. Soos in Psalm 96 bely ons: “Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied.” Die Here doen ‘n nuwe werk in Wesbank. Ons sien mense wat verlore was, wat nou roep tot Christus. Ons sien jongmense wat dissipels word. Ons sien huwelike herstel, kinders onderrig, en die liggaam van Christus opgebou. Die Woord van God bring lewe in die valleie van dood.
Ons begeerte is om ‘n geloofsfamilie te wees vir die mense van Wesbank. Ons droom van ‘n gemeente wat nie net groei in getalle nie, maar wat ook nuwe leiers oplei, nuwe dissipels maak, en nuwe gemeentes plant – alles tot eer van God se Naam. Mag Hy deur Sy Gees en Woord, in en deur ons, Sy koninkryk laat kom op die Kaapse Vlakte.